Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS SONDAG 23 OCTOBER 2016

Goeiemôre en welkom by die weeklikse nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur ________________________ (jou naam, roepsein en QTH)

Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag nuusbulletins in Afrikaans sowel as Engels om 08:15 en 08:30 plaaslike tyd onderskeidelik uit op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers. Hierdie uitsendings word ook via Echolink herlei deur ZS0JPL.

‘n Oudio opname sowel as ‘n teks weergawe kan van die Liga se webblad, www.sarl.org.za,afgelaai word, en jy kan ook daar inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.

IN DIE NUUS VANDAG:

OKOSA RAAD KEUR MEMORANDUM VAN VERSTANDHOUDING MET SARL GOED

FREKWENSIE VERANDERINGE VIR AMATEUR RADIO TODAY

VERANDERING VAN IARU SEKRETARIS

OPDATERING VAN KLUB INLIGTING OP DIE SARL WEB TUISTE

VOORTREKKERS HOU KOERS OP DIE AMATEURRADIOBANDE

SONSIKLUS 25 EEN VAN DIE SWAKSTES

HF VOORTPLANTINGVOORSPELLING

en

DAGBOEK VAN GEBEURE

** Hierdie week het die OKOSA raad die memorandum van verstandhouding met die SARL goedgekeur. Hierdie memorandum vervang ‘n baie ou memorandum wat uitgedateer is en reeds verval het. Die doel van die memorandum is om te bevestig hoe OKOSA en die SARL sal saamwerk om die volgende te bewerkstellig:
* koördineer en harmoniseer die uiteiking van amateurradio frekwensie spektrum lisensies in Suid Afrika;
* vestig ‘n raamwerk om die amateurradio eksamen (RAE) te bedryf; en,
* koördineer aktiwiteite van wedersydse belang.

In terme van die memorandum, sal die SARL ‘n formele Nasionale Herhaler en Baken Bestuursgroep stig om aansoeke vir herhaler en baken lisensies te koördineer. ‘n Gesamentlike Werkskomitee, saamgestel uit verteenwoordigers van OKOSA en die SARL soos genomineer deur beide partye, sal gestig word en sal op ‘n aanhoudende basis funksioneer. OKOSA se regsafdeling is reeds besig om die formele onderteking van die memorandum deur die SARL President en OKOSA Voorsitter te reël. Die ondertekende dokument sal op die SARL webtuiste beskikbaar wees. SARL President, Nico van Rensburg sê dat die onderteking van hierdie memorandum ‘n belangrike mylpaal is aangesien dit die verhouding tussen OKOSA en die SARL formaliseer.

** Op 30 Oktober, die begin van die nuwe kortgolf seisoen, verander Sentech van die frekwensies vir Amateur Radio Today. Die Sondag uitsending om 08:00 UTC bly op 7205 kHz, terwyl die uitsending vir Oos en Sentraal Afrika verander na 17760 kHz. Die Maandag uitsending om 16:30 UTC verander na 4895 kHz.

** Rod Stafford, W6ROD, het uitgetree as IARU Sekretaris na sewe jaar van diens in daardie posisie. Die IARU Grondwet bepaal dat die lidvereniging wat dien as die Internasionale Sekretariaat, dit wil sê die ARRL, die Sekretaris aanwys. Die ARRL Raad van Direkteure het David Sumner, K1ZZ, aangewys om Rod Stafford te vervang as Sekretaris effektiewelik 15 Oktober 2016.

David Sumner het twee keer vantevore in hierdie hoedanigheid gedien, 1982 tot 1989 en 1999 tot 2009, terwyl in diens van die ARRL om sy hoofkwartier te bestuur. Nou afgetree, sluit hy by die ander IARU beamptes en Administratiewe Raadslede aan om te dien as 'n vrywilliger.

IARU President Tim Ellam, VE6SH, het Rod Stafford as Noodkommunikasie Spesiale Adviseur aangestel. In hierdie hoedanigheid, sal hy die belange van die IARU en die globale amateurradio gemeenskap in die ontwikkeling sektor van die ITU verteenwoordig en sal advies en raad gee oor aangeleenthede wat verband hou met nood en ramp reaksie kommunikasie.

** Hierdie is 'n ernstige oproep vanaf die sekretaris van die SARL. Die kantoor van die SARL is tans besig met 'n oefening om die Klub inligting soos op die SARL databasis verskyn en wat opgedateer word op die SARL web tuiste, na te gaan om sodoende die korrektheid van die inligting te verifiëer. Tydens die oefening het dit duidelik geword dat daar baie inligting op die databasis is wat verkeerd is. Om te verseker dat die kantoor hul administratiewe pligte nakom en om effektief te funksioneer, word elke Klub sekretaris/sekretaresse en Klub Voorsitters versoek om asseblief hul Klub inligting op die SARL web tuiste na te gaan en waar nodig aan te pas sodat die nuutste Klub inligting beskikbaar is. Hierdie is 'n ernstige beroep aan alle belanghebbendes om asseblief seker te maak dat alle Klub inligting en veranderinge waar nodig so gou moontlik aangebring sal word. U samewerking in hierdie verband word hoog op prys gestel.

** Die SARL het die volgende aansoeke om lidmaatskap ontvang:
ZSL1V Max George Hounsell
ZR1ALB Albert van der Waal
ZSL1170 Andre Fryer - Luisteraar Lisensie aansoek

Enige teenkanting teen die begenoemde aansoeke moet die SARL sekretaris voor Woensdag die 26ste Oktober bereik. Stuur u skrywe per epos aan secretary@sarl.org.za

Daar is tans 1484 lede wat hul lidmaatskap hernu het en daar is 44 klubs wat ook hul affiliasie hernu het.

** CQ Hou Koers is Die Voortrekkers se nasionale amateurradiodag vir SA en Namibië. Die dag se doel is om moderne jong Voortrekkers bloot te stel aan die voordele van ons interessante tegnologie stokperdjie.

Die Voortrekkers vier in 2016 die beweging se vyf-en-tagtigste bestaansjaar en die roepsein ZS85VT word tydens spesiale geleenthede gebruik.

Die Voortrekkers bedank elke radio-amateur wat die moeite gedoen het om 'n klomp entoesiastiese kinders te ondersteun, asook elke Voortrekkerkommando-, kamp of aktiwiteit wat tyd ingeruim het om amateurradio 'n deel van hul dag of naweek se program te maak.

CQ Hou Koers op 15 Oktober 2016 het sowat twintig deelnemende stasies van regoor Suid-Afrika gehad. Gaan jy aan CQ Hou Koers 2017 deelneem en hulp aanbied by jou plaaslike Voortrekkergroep en/of radioklub?

Besoek gerus www.voortrekkkers.co.za om meer uit te vind oor Die Voortrekkers. Navrae oor CQ Hou Koers kan gestuur word aan orionvoortrekkers@gmail.com

** Volgens NASA se langtermyn son voorspelling kan Siklus 25, wat sy piek gedurende 2022 behoort te bereik, een van die swakstes in eeue wees. Hierdie kan ‘n ander Maunder Minimum wees wat die HF frekwensies affekteer waar die maksimum bruikbare frekwensie kan daal tot die laer frekwensies. Moenie moed opgee nie, want nou is die tyd om die BHF bande op 50, 70 en 144 MHz te ondersoek. Langafstand kontakte op BHF is baie meer uitdagend as HF.

Indien jy die moeite doen om ‘n hoë-wins horisontale Yagi antenna te bou of te koop, jou toerusting te verbeter en BHF voortplanting te leer, dan kan jy verwag om heelwat langafstand kontakte te maak. Byvoorbeeld: Tropo Verbetering op 144 MHz kan gereelde 400 km kontakte bewerkstellig, terwyl Tropo Geleiding die afstand tot etlike duisende kilometer kan verleng, veral oor die see. Op 50 MHz kan ‘n afstand van 2500 km bereik word op Meteoor Verstrooïng met beide analoog en digitale modes. Daar is baie ander moontlike modes op die towerband soos Sporadiese-E, maar al wat jy moet doen, is om die moed te hê om te eksperimenteer.

Indien jy belangstel in wêreldwye DX, probeer gerus aard-maan-aard wat reg deur die jaar en bykans daagliks moontlik is en ook nie deur ionosferiese toestande beïnvloed word nie. Hou in gedagte dat jy nie veel op BHF gaan uitrig met ‘n vertikale antenna en QRP nie. BHF is inderdaad baie uitdagend, maar is ook soveel meer opwindend en bevredigend.

** Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak baie laag gaan wees. Daar is bykans geen kans vir ernstige sonfakkels nie.

Diegene wat hul eie frekwensievoorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van 5 vir die week gebruik.

Amateurs kan goeie openinge op die 15 tot 20m bande verwag. Daar is selfs 'n moontlikheid van 10m openinge op Noord-Suid sonverligte paaie.

Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

** Kom ons loer nou na gebeure vir die volgende paar weke:

29 – 30 Oktober – CQ WW DX ESB Kompetisie
5 November – RaDAR Uitdaging
5 November – Pretoria Amateur Radio Klub Snuffelmark
6 November – Die PEARS HF DX Kompetisie
13 SARL Jeug Net
19 November – Antieke Draadloos Vereniging AJV & Snuffelmark
26 – 27 November – CQ WW DX CW Kompetisie
26 November – Wes Rand Snuffelmark

Om die bulletin mee af te sluit ‘n opsomming van ons hoofberig: Hierdie week het die OKOSA raad die memorandum van verstandhouding met die SARL goedgekeur. Hierdie memorandum vervang ‘n baie ou memorandum wat uitgedateer is en reeds verval het.

Dit bring ons aan die einde van hierdie bulletin.

Die Suid-Afrikaanse Radio liga se nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuus brokkies van belang vir radio amateurs en kortgolf luisteraars in te dien. Plaas nuus berigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radio liga webtuiste onder die 'news inbox' skakel nie later as die Donderdag wat die bulletin datum vooraf gaan nie.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 plaaslike tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laersyband, 7 205 en 17 660 kHz AM en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO, is ook beskikbaar. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 plaaslike tyd op 4 685 kHz plaas.

Ons ontvang graag jou sein rapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateur frekwensies.

Jy het geluister na 'n nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radio liga, saamgestel deur Emile Venter, ZS6V, en gelees deur ...........................................................

Die Afrikaanse nuus span groet nou en wens jou `n mooi week toe. Totsiens.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003